Geskryf deur Marcélle de Kock
Aangestuur deur: Jacky Botha

 

Wetenskaplikes beoordeel maklik gelowiges wat bid vir genesing. Hulle verneem dat dit nie God is wat jou gesond gemaak het nie, maar die medisyne; dat jou hartseer gebede jou net verder teneerdruk, en jy eerder moet fokus op positiewe gedagtes; dat die energie wat jy uitstuur bepaal wat terug kom na jou toe.

As Christene weet ons dat God nie werk met ‘n towerstaf nie, maar dat Hy mense, medisyne, geleenthede en gebeurtenisse oor ons pad stuur om wonderwerke te laat plaasvind. Ons moet net deur konstante gebed vertrou dat Hy met ‘n plan werk.

Ons verstaan dalk nie wat die doel van ‘n sekere gebeurtenis of lyding is terwyl ons daarmee worstel nie. Tog kan ons deur geloof op God vertrou dat Hy saam met ons in die lydingstyd is, en dat ons na afloop van die storm sal verstaan wat ons daaruit moet leer. Daardie les sal ons vorentoe dra deur verdere storms en ons instaat stel om ander te help. Sodoende verkondig ons Sy Naam.

God werk altyd met ‘n plan.

Jacky Botha het ‘n besondere getuienis.
Sy wil graag die volgende met ons deel:

Tydens 2016 is ek diagnoseer met kanker. Ek het tot God gebid om vir my nog ‘n kans in die lewe te gee. Ek het belowe om Sy naam te verkondig waar ek ookal gaan. Na twee operasies is al die kanker verwyder en leef ek ‘n gesonde lewe!

Dinge kon soveel anders gewees het – die kanker kon dalk verder deur my liggaam versprei het. Deur die Here se genade is ek gespaar. Ek is baie dankbaar dat ek nog ‘n kans gegun was om te leef, selfs al worstel ek nog met die emosies wat gepaard gaan met so ‘n groot gebeurtenis.

Die Here werk in maniere wat ons nie aldag verstaan nie. Deur ons ervaringe gebruik Hy ons om ander mense te help en te bemoed. Alles is deel van Sy groter plan. Ons moet net glo.

Wanneer jy deur ‘n moeilike tyd gaan – fisies, emosioneel, finansieël of spiritueel – voel dit soms asof God jou verlaat het. Jy sien geen lig aan die einde van die tonnel. Tog wag God nie vir jou aan die einde van die tonnel nie. Hy is saam met jou in die donkerte. Hy dra jou, ondersteun jou, kry seer en hartseer saam met jou en Hy stap ook saam met jou by die tonnel uit wanneer jy die les leer wat Hy wou hê jy moes.

Hou aan bid en glo – God bring genesing.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *