Geskryf deur Marcélle de Kock
Storie aangestuur deur: Die Van Tonder gesin

Vir ons familie was dit die dag wat ons uitgevind het dat ons ongebore babaseuntjie se hartjie nie reg ontwikkel het nie. Ek was 24 weke swanger toe hy met Dextrocardia, Pulmonêre Artresia, VSD en ‘n Single Ventricle outlet gediagnoseer was. Kortliks beteken dit dat sy pulmonêre arteries net gedeeltelik ontwikkel het. Die dokters was onseker of hy geboorte sou oorleef, of dan langer as vier dae sou leef. Ek het verslae op my knieë geval en dadelik begin pleit vir ‘n wonderwerk.

Dokters het terminering aanbeveel, maar ons sou dit nooit kon doen nie. Ons sou vir altyd wonder wat andersins sou gebeur het.Tog het ons geglo dat dit nie ons besluit is nie – slegs God se besluit. Dit is menslik om bekommerd te wees, maar ons het besef dat ons alles in God se hande moet plaas.

Ons het aanhoudend gebid tot God dat Monré se arterie sal groei en God het ons gebede geantwoord soos ons gehoop het Hy sou. Met elke voorgeboorte sonar was daar sigbaar meer arterie. Dokter Linnie Miller kon net verbasend na die skerm staar. Geen van die sindrome wat kòn gepaard gaan met die hartkondisie is diagnoseer nie. Tog was sy hart nie heeltemal ten volle ontwikkel teen geboorte nie.

Monré se geboorte was ‘n warrelwind. Ek het hom net twee sekondes op my bors vasgehou voor hulle hom na die NICU gejaag het. My man was saam met die Kardioloog in die NICU tydens die evaluering. Die gewag was onbeskryflik. Toe hulle my vanuit die teater terugstoot na die normale saal, het my man verby my geloop. Al wat hy kon uiter was: “Dokter Pribut sal iets vir ons seuntjie kan doen!”

Dit was al wat my moedershart wou hoor.

Monré was 2 weke in die NICU voordat hy huistoe kon gaan. Op daardie stadium het hy nie ‘n operasie nodig gehad nie. Ons moes daagliks sy gelaatskleur en asemhaling dophou. Hy was op geen hartmedikasie nie.

Op 6 maande het Monré vir die eerstekeer angstig geraak terwyl hy woelig was in die bad. Die Kardioloog het sy saturasie getoets en ‘n sonar van sy hart geneem. Hy het ‘n stenose in Monré se regter pulmonêre arterie opgetel en ná ‘n konsultasie met Dr Susan Vosloo, besluit om sy Glenn Shunt prosedure op 7 maande te doen. Die operasie het perfek verloop, sonder komplikasies, onsteking of infeksie.
Na sewe dae se van herstel in die hospitaal, is Monré ontslaan. Al wat hy vandag oorhou van daardie struikelblok in sy lewe, is ‘n klein letsel op sy bors.

Vandag is Monré twee jaar en 6 maande. Hy is ‘n gelukkige seuntjie wat lag, speel en rondhardloop (alhoewel kontak sport nie in sy toekoms lê nie) en neem tans geen hartmedikasie nie. Hy raak net vinniger moeg as sy maatjies.

Die rede daarvoor is dat sy suurstof saturasie vlakke stadig besig is om te verlaag. Hy moet nog ‘n  prosedure, genaamd Fontaan, ondergaan voor die einde van hierdie jaar. Die prosedure sal bloed- en suurstof toevoer na alle dele van sy liggaam verbeter.

Elke keer wat ek na my seuntjie kyk kry ek ‘n angstige knop in my keel oor wat voorlê. Tog is daar ‘n versekerde kalmte in my wat net van God kan kom. Hy is elke sekonde by my, my man en my seuntjie. Elke dag is ‘n seëning vanuit God se hand. Elke sekonde ‘n genade van bo. Ons weet nie hoe lank Monré vir ons gespaar sal bly nie – ons wens, natuurlik, vir altyd. Daarom koester ons elke oomblik saam met hom.

Ons as familie hoop, glo, bid en vertrou nogsteeds vir volkome genesing vanuit God se hand en sal ALTYD op ons knieë bly.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *