Geskryf deur Marcélle de Kock Aangestuur deur: Bianca Louw

Partykeer voel jy net so oorweldig deur God se goedheid in jou lewe. Nog meer so wanneer jy besef dat alles waaroor jy as kind gedroom het ‘n werklikheid is. As kind het jy grootdrome – jy wil ‘n dokter wees, ‘n groot huis hê, ‘n sekere motor bestuur en alles wat groot en opwindend is. Party drome is so groot dat jy dit nooit bereik nie, terwyl ander so eenvoudig is dat jy daarvan vergeet.

Een van my grootste kinderdrome was dat ek van die huis afwerk. Ek was nooit seker wat ek sou doen nie, maar dit was vir my belangrik om eendag genoeg tyd te kan hê vir my kinders en familie. Nooit het ek gedink dat ek bevooreg genoeg sou wees om hierdie droom uit te leef nie.

Beroepstoetse het gewys dat ek onderwys moet studeer, maar in my hart het ek geweet dat dit nie my passie is nie. Na skool het ek een jaar gewerk om self te besluit wat ek met my lewe wil doen. So begin my storie in ‘n drukkerswinkel in Tygervallei. Daar het ek besef dat ek ‘n ontwerper wil word.

Ek het dit gaan studeer en direk na my studies ‘n werk gekry in Century City as deel van ‘n ontwerpspan. Daar het ek so baie geleer en gegroei in my talent en ook as mens. Die maatskappy het my diep water laat swem toe hulle my by webtuisteontwikkeling betrokke gemaak het. Dit was van tyd tot tyd baie moeilik, en daar was gedurig mense wat saggies vir my gefluister het dat ek dit nie sal kan doen nie of gewaarsku het dat ek nie sommer werk sal vind in die beroep nie.

As ek nou terugkyk kan ek God se hand in elke oomblik van my loopbaan sien. Ek weet dat Hy my op hierdie pad gesit het. Elke uitdaging was deel van my ontwikkeling tot waar ek vandag is. Die regte geleenthede het op die regte tye oor my pad gekom, baie keer sonder dat ek eers daarvoor gesoek het. Dit was alles deel van God se plan.

Na ag jaar in die bedryf het ek die groot sprong geneem om my eie besigheid te begin, met slegs ‘n paar maande se salaris in ‘n spaarrekening, ‘n klein baba, ‘n man wat my ondersteun, en geen kliënte. Daar was geen waarborge tot sukses nie, maar ek het rustig gevoel. Ek het geweet dat dit gaan werk. Ek het vasgehou aan die belofte in Matteus 6:25 – 29:

“Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe – wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam – wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie? Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? En wat kwel julle jul oor klere? Let op die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle dat selfs Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie.”

Drie jaar later het ek elke maand genoeg werk. Ek is geseën met soveel kliënte met wie ek ‘n pad kan stap en kan sien hoe hul besighede groei. Ek voel gereeld oorweldig deur God se goedheid en getrouheid. Uit Sy genadige hand het Hy het my gelei om tot op die punt kan kom waar ek my droom leef.

Van tyd tot tyd sal dit voel asof jy teen die plafon vas bid. Ander kere sal dit voel asof alles verkeerd loop, of dat jou drome heeltemal weggeruk is van jou. Dit is juis dan wat jy moet aanhou glo dat God ‘n plan het en dat Hy die begeertes van ons harte ken.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *